Die verband tussen broeilingmassa en eiervolume in die Nylkrokodil (Crocodylus niloticus): Eiers se produktiwiteit varieer

The relationship between hatchling mass and egg volume in the Nile crocodile (Crocodylus niloticus): The productivity of eggs varies

  • Johan O Nöthling Universiteit van Pretoria
  • Johan A Nöthling Universiteit van Pretoria
  • Jan G Myburgh Universiteit van Pretoria
Keywords: Nylkrokodil, krokodil, eier, broeiling, volume

Abstract

Die oorlewing en lewenskragtigheid van Nylkrokodil (Crocodylus niloticus) broeilinge is belangrik vir die sukses van kommersiële krokodilboerdery en die instandhouding van populasies in die natuur.

In hierdie studie beskryf ons eers die verband tussen die massa van Nylkrokodilbroeilinge en die geskatte volume van die eier waaruit elkeen gebroei het. Daarna beskryf ons die variasie in die verhouding tussen die massa van individuele broeilinge en die volume van die eier waaruit elk gebroei het (die produktiwiteit van die eier) binne en tussen broeisels. Die volumes van 316 Nylkrokodileiers uit 51 broeisels is met ’n doelgemaakte algoritme geskat op grond van sleutelafmetings van die eiers wat op foto’s van die uitgebroeide eierdoppe gemaak is. Die broeiling wat uit elke eier gebroei het is direk na uitbroei geweeg. 

Nóg die duur van inkubering tot uitbroei (P = 0.88) nóg die jaar waarin broeisels gelê is (P = 0.35) nóg die aantal eiers in die broeisel (P = 0.57) het broeilingmassa beïnvloed. Daar bestaan ’n sterk, lineêre positiewe verband tussen die uitbroeimassa van Nylkrokodilbroeilinge en die geskatte volume van die eiers waaruit hulle gebroei het r = 0.88, P < 0.001, n =316). Sonder inagneming van geskatte eiervolume is 86.9% van die variasie in broeilingmassa die gevolg van variasie tussen broeisels en 13.1% die gevolg van variasie binne broeisels. Indien geskatte eiervolume in berekening gebring word is 59% van die variasie in broeilingmassa vir ’n bepaalde geskatte eiervolume die gevolg van variasie tussen broeisels en 41% die gevolg van variasie binne broeisels. Die produktiwiteit van eiers het van 0.57 g/ml tot 0.81 g/ml gevarieer, met 45.4% van die variasie wat tussen broeisels voorgekom het en 54.6% binne broeisels.

Verdere navorsing is nodig om die verband tussen broeilingmassa en die groei van broeilinge, sowel as die verband tussen eierproduktiwiteit en die groei van broeilinge te ondersoek.

DOI: https://doi.org/10.36303/SATNT.2019.38.1.719

Author Biographies

Johan O Nöthling, Universiteit van Pretoria

Departement Produksiedierstudies, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Johan A Nöthling, Universiteit van Pretoria

Departement Fisika, Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Jan G Myburgh, Universiteit van Pretoria

Eksotiese Leer Navorsingsentrum, Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria, Suid-Afrika

Published
2019-08-15
How to Cite
Nöthling, J., Nöthling, J., & Myburgh, J. (2019). Die verband tussen broeilingmassa en eiervolume in die Nylkrokodil (Crocodylus niloticus): Eiers se produktiwiteit varieer. Suid-Afrikaans Tydskrif Vir Natuurwetenskap En Tegnologie / <i>South African Journal of Science and Technology</I&gt;, 38(1), 71-79. Retrieved from http://satnt.ac.za/index.php/satnt/article/view/719
Section
Oorspronklike Navorsing