Volhoubare wynproduksie- en wingerdbouregulasies vereis dat die omgewingsimpak van die algemene wynmaakproses verminder en die volhoubaarheid en ekonomiese lewensvatbaarheid daarvan deur middel van omgewingsvriendelike produksiepraktyke geoptimeer word. Dit verg ongeveer 10 L water om een liter wyn te vervaardig. Slegs 2.4 L hiervan word in die kelder gebruik. Ongeveer 0.71 GJ elektrisiteit word gebruik om een kiloliter wyn te maak. Hierdie energie kan doeltreffend deur omgewingsvriendelike, hernubare energiebronne voorsien word. Die intrinsieke verband tussen omgewingsfaktore en die voedsel-, energie- en waterketting noodsaak nuwe navorsing hierin vir die wynbedryf.
In hierdie navorsingsprojek evalueer ons belangrike omgewingsimpakfaktore by die installering van geïntegreerde drywende of oorwatersonkragstelsels in wynmakeryproduksiestelsels. Sonkragstelsels kan dryf op damme wat vir wingerdbesproeiing gebruik word. Dit verseker dat kosbare landbougrond behoue bly. Ons navorsing toon dat hernubare sonenergiestelsels op wingerdbesproeiing en damme in die Wes-Kaapse wynstreek van Suid-Afrika voordele vir die omgewing inhou en water bewaar. Drywende sonkragstelsels kan in die energiebehoeftes van wynmakery voorsien en groter volhoubaarheid by wingerdbesproeiing, -verkoeling, -verpakking en -beligting verseker. Verder verminder drywende sonkragstelsels besproeiingsdamme se verdampingstempo, terwyl die skadu van sonkragpanele die groei van alge in die water belemmer. Ons simulasies en gevolgtrekkings word later vergelyk met die resultate van soortgelyke drywende sonkragstelsels wat Amerikaanse wynboere in die Napa-wynstreek gebruik.
Daar word verder getoon dat gekonsentreerde sonkrag- en fotovoltaïese sonkragstelsels op damme tot voordeel van wingerdbesproeiing kan wees, danksy die verwagte veranderinge in die beoogde koolstofbelasting. Een hiervan is ’n formule waarvolgens die basiese persentasie belastingvrye drempel beloon word vir oorprestasie (energie word terugverkoop aan die nasionale Eskom-kragnet) om ekonomiese volhoubaarheid te verseker.