Hiermee word bewys dat ’n volle vloeichemie-strategie vir die sintese van clozapine onder hoë druk en ‘n hoë temperatuur moontlik is, danksy ’n Uniqsis Multi-X-vloeichemiesisteem. Hierdie metode toon verbeteringe in vergelyking met die tradisionele prosessintese. Die sintese van clozapine bestaan uit vier fases. Die eerste fase behels die bekende Ullmankoppeling in die teenwoordigheid van ’n kopermetaal of palladiumbemiddelde Buchwald-Hartwigkoppeling. Hierdie soort koppeling benodig dikwels uiterste toestande, soos hoë temperature en aansienlike reaksietye, en word gekenmerk deur ’n lae tot matige opbrengs. Die konsep is bewys deur ’n studie wat toon dat die Ullmankoppeling onder vloeichemietoestande uitgevoer kan word deur gebruik te maak van ’n kolomreaktor wat kopermetaal en kaliumkarbonaat bevat en ’n tweede kolom wat gepak is met basiese anioniese hars om die gewenste produk op te vang en dan weer vry te stel. Die produk word vrygestel deur die kolom te spoel met ’n mengsel van 20% mieresuur en metanol. Die tweede fase van hierdie proses behels die reduksie van ’n nitraatgroep deur die oordrag van waterstof. ’n Nitraatgroep word in die teenwoordigheid van waterige ammoniak in ’n amien omgeskakel. Hierdie stap toon goeie opbrengste en reaksietye in vergelyking met die tradisionele prosessisteem, en daar is bewys dat dit ook op soortgelyke reduksiesisteme van toepassing is. Die derde fase is ’n amiedkoppeling wat gedemonstreer is deur gebruik te maak van ’n deurlopende vloeisisteem en ’n kolomreaktor wat gepak is met molekulêre siwwe wat voortdurend water uit die sisteem verwyder en die koppeling voortdryf. Hierdie reaksie benodig hoë temperature – om en by 130 °C – en is maklik bekombaar deur ’n vloeireaktor met oplosmiddels soos isopropanol. Die vierde fase word nog ondersoek, en die totale sintese van clozapine moet nog geoptimiseer word.