Die implementering van projekgebaseerde leer het die potensiaal om affektiewe faktore in studente positief te ontwikkel wat selfgerigte lewenslange leer kan bevorder. Lewenslange leer is ’n sleutelvereiste vir onderwysers om relevant kundig in hulle vakgebied te bly, asook om aan die vereistes te kan voldoen wat aan leerders en onderwysers in die 21ste eeu gestel word. Dit is veral belangrik vir onderwysers wat Verbruikerstudie, ’n dinamiese en waardevolle vak in Suid-Afrikaanse skole, aanbied. Die bevordering van selfgerigte lewenslange leer as deel van die opleiding van Verbruikerstudie-onderwysstudente is dus noodsaaklik. Verskillende affektiewe faktore, byvoorbeeld motivering, dra by tot die bevordering van leer wat ontwikkel kan word deur die keuse van gepaste onderrig-leerstrategieë. Affek kan leer deur geheueprosesse, leerprosesse, aandagspan, ervarings en motivering beïnvloed. ’n Gevallestudie is onderneem om ondersoek in te stel op welke wyse projekgebaseerde leer in ’n opleidingsprogram vir Verbruikerstudie-onderwysstudente bydra tot die ontwikkeling van affektiewe faktore en hoe dit hulle leer bevorder. Studente wat vir ’n Verbruikerstudie-opleidingsprogram geregistreer is, is as deelnemers geselekteer en data is deur middel van oop vraelyste, weeklikse refleksie, asook fokusgroep- en individuele onderhoude ingesamel. Die bevindinge bevestig dat die toepassing van projekgebaseerde leer bygedra het tot die bevordering van verskeie affektiewe faktore, maar in die besonder motivering, die waarde wat die studente aan leer heg, asook die ontwikkeling van ’n positiewe houding jeens leer. Hierdie affektiewe faktore dra by tot die ontwikkeling en bevordering van positiewe leerervarings. Ontwikkelaars van voorbereidingsprogramme vir Verbruikerstudie-onderwysstudente sou hierdie inligting kon implementeer ter versterking van sulke programme. Verdere navorsing kan gedoen word aangaande die verband tussen projekgebaseerde leer en ander affektiewe faktore wat leer kan ondersteun in Verbruikerstudie-onderwysersopleiding.
Lewenslange leer word dikwels as ’n kritieke doelwit van onderrig beskou (Stolk
Verskillende faktore bevorder leer, onder meer affektiewe faktore (Mok & Cheng
Verbruikerstudie is ’n Suid-Afrikaanse skoolvak met groeiende leerdergetalle en toenemende gewildheid (Departement van Basiese Onderwys [DBO]
Die doel van hierdie artikel is om verslag te doen oor navorsing wat uitgevoer is om die affektiewe ervarings van Verbruikerstudie-onderwysstudente tydens ’n projekgebaseerde leertaak in ’n Verbruikerstudie-onderwysersopleidingsmodule te ondersoek. Die artikel is soos volg gestruktureer: die volgende afdeling bevat die konseptuele en teoretiese raamwerk waarop die ondersoek gebaseer is, gevolg deur ’n verslag oor die empiriese ondersoek wat op grond van daardie raamwerk uitgevoer is. Daarna volg ’n uiteensetting en bespreking van die bevindinge in die lig van die konseptueel teoretiese raamwerk. ’n Gevolgtrekking en aanbevelings sluit die artikel af.
Bestaande literatuur is bestudeer om te bepaal watter navorsing reeds gedoen is ten opsigte van affek, projekgebaseerde leer, selfgerigte leer en Verbruikerstudie-onderwysersopleiding, asook op welke wyse hierdie aspekte geïntegreer kan word om leer te bevorder.
Onderwysersopleiding in Suid-Afrika het die afgelope paar jaar verskeie ingrypende wysigings ondergaan, onder meer veranderinge soos bepaal deur staatsinstellings, tesame met omvangryke kurrikulumaanpassings waarvoor onderwysers voorberei moes word (Kruss
Die term ‘affektief’ verwys na emosies, waardes, houdings en motivering (Mynard & McLoughlin
Goed beplande onderrig-leerstrategieë, soos projekgebaseerde leer, kan selfgerigte en lewenslange leer fasiliteer (Acar
Projekgebaseerde leer is ’n onderrig-leerstrategie wat daarop fokus om die leerproses aan die hand van ’n probleem of uitdaging te rig (Havenga
Projekgebaseerde leer hou verband met verhoogde motivering (’n affektiewe faktor) by leerders om te leer (Acar
Die vereiste vir lewenslange, selfgerigte leer geld ook vir die opleiding van Verbruikerstudie-onderwysers in Suid-Afrika. Verbruikerstudie-onderwysers moet deeglik opgelei en voorberei word in die omvattende vakspesifieke leerinhoud en verskeie praktiese opsies wat hulle in die skoolvak sal moet kan aanbied (DBO
Projekgebaseerde leer as innoverende onderrig-leerstrategie is reeds in ander vakgebiede gebruik om leer en spesifiek selfgerigte leer te bevorder. Hierdie strategie is gevolglik oorweeg as ’n moontlik doeltreffende onderrig-leerstrategie wat in die opleiding van Verbruikerstudie-onderwysstudente geïmplementeer kan word. Die invloed van affektiewe faktore op die bevordering van lewenslange leer is betekenisvol (Kim
’n Leemte wat in die literatuur geïdentifiseer is, is die gebrek aan navorsing oor Verbruikerstudie-onderwysersopleiding en strategieë of maniere waarop lewenslange, selfgerigte leer in bestaande modules bevorder kan word. ’n Verdere leemte is die beperkte navorsing oor die bydrae van projekgebaseerde leer as ’n onderrig-leerstrategie tot affektiewe faktore wat leer bevorder. Hierdie leemtes het gelei tot die formulering van die volgende navorsingsvraag:
’n Empiriese ondersoek is dus geloods om te bepaal hoe studente deur middel van projekgebaseerde leer kennis gekonstrueer het in en sin gemaak het van die Verbruikerstudie-onderwysersopleidingsmodule, spesifiek deur die ontwikkeling en aanwending van affektiewe faktore.
Die raamwerk waarbinne die navorsing uitgevoer is, met detail oor die deelnemers en konteks, asook die navorsingsontwerp en -metodes wat gebruik is, word vervolgens bespreek. Die prosedures wat gedurende data-insameling en dataverwerking gevolg is, asook die etiese aspekte van die studie, maatreëls wat getref is om die geloofwaardigheid van resultate te bevestig en beperkinge van die studie, word beskryf.
Konstruktivisme is reeds met sukses in die opleiding van onderwysstudente in Family and Consumer Sciences toegepas (Jensen & Rowley
Sosiale konstruktivisme is dus as geskik beskou vir die teoretiese begronding van hierdie navorsing. Die Verbruikerstudie-onderwysersopleidingsmodule is toegespits op die ontwikkeling van metodologiese vaardighede en het ten doel om voornemende onderwysers toe te rus met kennis, vaardighede en waardes wat hulle in hul professie sal kan toepas in die onderrig van leerders in hul vakgebied. Dit was belangrik dat die deelnemers ook sou verstaan hoe kennis gekonstrueer word, asook hoe daar tydens projekgebaseerde leer van kennis sin gemaak kan word sodat onderwysers hulle eie leerders met hierdie leervaardighede kan bemagtig. Begrip van die rol wat affektiewe faktore in leer en selfgerigte leer speel, sal verder positief bydra tot onderwysstudente se professionele ontwikkeling.
Die studie is in die konteks van ’n bestaande Verbruikerstudie-onderwysersopleidingsmodule in die Fakulteit Opvoedingswetenskappe van ’n Suid-Afrikaanse universiteit uitgevoer. ’n Beperkte getal studente (vyf) was in die jaar waarin die studie uitgevoer is vir die module geregistreer. Deelnemers het reeds ’n graad in Verbruikerswetenskap (byvoorbeeld B.Sc. Verbruikerswetenskap) voltooi en het hul studie met ’n nagraadse onderwyssertifikaat voortgesit (d.w.s. ’n NGOS-kwalifikasie). Die module waarin die studie uitgevoer is, fokus op die opleiding van onderwysstudente om Verbruikerstudie op skoolvlak te kan fasiliteer en implementeer. Die module strek oor een semester en duur ongeveer vyftien weke. Dit is ’n didaktiekmodule wat op die fasilitering van kennis, waardes en vaardighede van studente fokus, eerder as net op die aanleer van Verbruikerstudie-vakinhoud.
’n Kwalitatiewe gevallestudie het as navorsingsmetode gedien. Metodes wat met die kwalitatiewe aard van só ’n studie belyn is, is gebruik vir data-insameling en -verwerking. Die navorser was direk betrokke by die data-insameling, terwyl die opinies en ervarings van deelnemers sentraal was tot die studie wat binne die spesifieke konteks van die onderwysersopleidingsmodule uitgevoer is. ’n Bestaande Verbruikerstudie-onderwysersopleidingsmodule is aangepas om hoofsaaklik projekgebaseerde leer as ’n onderrig-leerstrategie te gebruik sonder om die leerinhoud van die module te verander. Die bestaande inhoud in die module is doelgerig herrangskik in terme van volgorde, aktiwiteite en samehang om deel uit te maak van ’n projek wat gebruik is om die leerproses te struktureer. Deelnemers het bepaalde aktiwiteite as individue voltooi en ander as ’n groep. Die studie het gefokus op die ervarings van die deelnemers binne die projekgebaseerde onderrig-leerstrategie en die invloed daarvan op hul affek, eerder as op die strukturering van die module. Die navorsingsontwerp het soos volg daar uitgesien (
Navorsingsontwerp gebruik vir die studie.
Aanvanklike bepaling van voorkennis | Deelnemers | Empiriese ondersoek | Doel |
---|---|---|---|
Oop vrae oor verbruikerstudiekennis en-ervaring, asook projekgebaseerde leer. | Individueel | Twee geskeduleerde individuele onderhoude per deelnemer; Weeklikse projekverslae; Weeklikse reflektiewe joernaalinskrywings; Oop vrae oor Verbruikerstudiekennis, asook projekgebaseerde leer, na afloop van die module. |
Insameling van kwalitatiewe data rondom deelnemers se belewenis en ervarings van projekgebaseerde leer as onderrig-leerstrategie, met spesifieke fokus op affektiewe faktore. Insameling van kwalitatiewe data van deelnemers se kennis rakende Verbruikerstudie-vakinhoud en - metodologie, asook projekgebaseerde leer as onderrig-leerstrategie na afloop van die module. |
Groepwerk | Fokusgroepsessies. Bepaalde module-aktiwiteite is as groepwerk gespesifiseer. |
Insameling van kwalitatiewe data rakende deelnemers (as groep) se belewenis van en ervarings met projekgebaseerde leer as onderrig-leerstrategie, met spesifieke fokus op affektiewe faktore en die interaksie tussen groeplede. Gestruktureerde groepwerk binne die projekgebaseerde leerproses om geleentheid te skep vir die toepassing van projekgebaseerde leerbeginsels en om samewerking tussen groeplede te noop. |
Data is ingesamel deur middel van vraelyste met oop vrae oor deelnemers se kennis en ervaring van die skoolvak Verbruikerstudie, projekgebaseerde leer en selfgerigte leer. In die groter studie, waarvan dié studie deel uitmaak, is op verskeie faktore gefokus. Hierdie artikel fokus egter slegs op die data wat die affektiewe ervarings van die onderwysstudente beskryf. Fokusgroepsessies is tweeweekliks met deelnemers gevoer en individuele onderhoude is twee maal gedurende die studie met elke deelnemer gevoer. Die eerste stel individuele onderhoude is aan die begin van die studie gevoer en die tweede stel nader aan die einde van die studie om die deelnemers se aanvanklike opinies met hul latere opinies, ná hul blootstelling aan projekgebaseerde leer, te kan vergelyk. Deelnemers het ook weekliks ’n individuele, doelgerigte projekverslag (Havenga & De Beer
Data is hoofsaaklik met Atlas.tiTM verwerk. Creswell (
Die studie is uitgevoer op die etiese voorwaardes gestel deur die universiteit se etiekkomitee. Ingeligte toestemming van deelnemers is voor die aanvang van die studie verkry. Deelnemers is deurentyd met respek behandel, het vrywillig deelgeneem en kon te eniger tyd aan die studie onttrek. Die identiteit van deelnemers en data is as vertroulik gehanteer.
’n Verskeidenheid data-insamelingsmetodes is aangewend om te verseker dat data diep en omvangryk sou wees om sodoende tot die geloofwaardigheid van resultate by te dra. Hierdie studie het van ’n multimetode-strategie gebruik gemaak om data in te samel om voorsiening te maak vir triangulasie. McMillan en Schumacher (
Die getal deelnemers in hierdie gevallestudie was klein, aangesien slegs vyf studente (as populasie) geregistreer het vir die module in die jaar waarin die studie uitgevoer is. Data is in slegs een module by slegs een universiteit ingesamel. Die potensiaal vir veralgemening van die bevindinge is dus beperk. Toekomstige studies kan meer deelnemers insluit uit ’n groter aantal instellings wat Verbruikerstudie-onderwysersopleiding aanbied. Die fokusgroepsessies en onderhoude is deur die aanbieder van die module gehanteer, wat studente se terugvoer meer subjektief kon beïnvloed het.
Die resultate word onder twee temas weergegee en bespreek, naamlik deelnemers se ervaring van projekgebaseerde leer as ’n onderrig-leerstrategie, gevolg deur die affektiewe faktore wat in die studie ondersoek is, soos uiteengesit in
Temas en sub-temas wat geïdentifiseer is.
Tema | Subtema |
---|---|
Deelnemers se ervaring van projekgebaseerde leer as ’n onderrig-leerstrategie. | - |
Projekgebaseerde leer en affektiewe faktore van deelnemers: | Deelnemers se houdings jeens hul eie leer. Deelnemers se motivering om te leer. Die waarde wat deelnemers aan die leertaak geheg het. |
Die navorsingsvraag wat in hierdie artikel beantwoord moet word, is:
Aanhalings van deelnemers is ingesluit om die resultate en bespreking toe te lig. Deelnemers se identiteite word beskerm deur te verwys na D1 (Deelnemer 1), D2 (Deelnemer 2), en so meer.
Vier van die vyf deelnemers het die projekgebaseerde leerstrategie besonder positief ervaar en was van mening dat dit verskeie voordele vir hulle ingehou het. Die doelgerigtheid van projekgebaseerde leer (D1, D3, D4), die vervlegting van kennis en die toepassing van die kennis in projekgebaseerde leer (D1, D3, D4, D5), asook die sinvolle strukturering van leer binne projekgebaseerde leer (D3), is as voordele genoem. Hierdie positiewe ervarings blyk duidelik uit die volgende aanhalings van deelnemers: ‘… wat lekker in hierdie vak is, is dat daar ’n doel is …’ (doelgerigtheid) en ‘… maar met die projek moet ek presies gaan dink hoe moet ek ook my projek aan een sit’ (vervlegting van kennis en toepassing daarvan). Projekgebaseerde leer is ondervind as meer genotvol as die onderrig en leerstrategieë wat in ander modules gebruik word en is deur deelnemers as interessant, uitdagend (D1, D3) en opwindend (D3, D4) ervaar. Twee deelnemers (D1, D4) het pertinent genoem dat die beginsels wat projekgebaseerde leer begrond, bygedra het tot hulle ‘eie persoonlike ontwikkeling’. Hierdie bevindinge strook met literatuur dat leerders projekgebaseerde leer dikwels bo ander onderrig-leerstrategieë verkies (Zhou & Lee
In teenstelling hiermee was daar ook een deelnemer wat aanvanklik minder positief was oor projekgebaseerde leer (D2): ‘… in hierdie vak voel dit vir my alles is ’n mengelmoes, so ek weet nie waar om te vat en waar om te los nie’. Hierdie bevinding sluit aan by ’n aanbeveling van die Buck Institute of Education (BIE) (
Daar is drie subtemas geïdentifiseer, naamlik deelnemers se houdings jeens hul eie leer (Subtema: Deelnemers se houdings jeens hul leer), deelnemers se motivering om te leer (Subtema: Deelnemers se motivering om te leer), en die waarde wat die deelnemers aan die leeraktiwiteite en -inhoud (leertaak) heg (Subtema: Die waarde wat deelnemers aan die leertaak geheg het).
Deelnemers 3 en 4 het oorwegend positiewe houdings jeens hul eie leer gehandhaaf. Deelnemer 3 het herhaaldelik genoem dat sy ‘entoesiasties’ en ‘opgewonde’ is oor die leeropdrag en dat sy die leertaak ‘geniet’ het. Deelnemer 4 het beskryf dat die projekgebaseerde leer bygedra het tot haar sin van doelwitbereiking en hoe dit haar positief laat voel het. Hierdie opmerking hou verband met die stelling van Enghag (
Deelnemer 4 se stelling was noemenswaardig: ‘My passie vir die vak is versterk na die projek en ek wil dit net bemark oral waar ek kom. Omdat ek weet wat die vakinhoud kan doen vir leerders. Dit kan hulle in soveel maniere bevoeg om dinge op hulle eie te doen na skool’. Op versoek het D4 verduidelik dat dit die projekgebaseerde leertaak was wat haar passie vir die vak (Verbruikerstudie) versterk het en haar selfs nog meer positief gestem het teenoor die module. Positiewe houdings jeens leer dra by tot leerders se motivering om te leer, wat gevolglik bydra tot leerderonafhanklikheid en selfgerigte leer (Brockett & Hiemstra
Affektiewe faktore en leerders se motivering om te leer is nou verwant (Gungor
Volgens Deelnemer 1 was sy meer gemotiveerd om te leer as voorheen omdat sy besef het watter voordele die leertaak vir haar toekomstige professie bied: ‘Wat nogal lekker is vir my van die hele projek, dit help my om bietjie te dink soos ’n onderwyser … So dit … bevorder my’. Hierdie stelling bevestig die positiewe bydrae van die projekgebaseerde leerstrategie in die onderwysersopleidingsmodule. Dit blyk ook uit die mening van D1 dat sy meer waarde aan die leertaak geheg het, juis omdat dit volgens haar bygedra het tot haar ontwikkeling as onderwyser. Verhoogde motivering by leerders is een van die voordele van projekgebaseerde leer (Center of Excellence in Leadership of Learning
Waarde is ook om verskeie ander redes aan die leertaak geheg, byvoorbeeld vir verbeterde selfdissipline (D2), asook vir die ontwikkeling van 21ste-eeuse vaardighede (D1, D3, D4, D5). Die 21ste-eeuse vaardighede wat volgens deelnemers deur projekgebaseerde leer ontwikkel is, sluit onder meer in tydsbestuur, beplanning, organisering en kommunikasie. Hierdie bevindinge strook met dié van ander navorsers soos Mergendoller
Die sosiale konstruksie is vergestalt in gestruktureerde groepwerk (byvoorbeeld fokusgroepe) om doelbewus die projekgebaseerde leerbenadering van die module in die vorm van sekere take en aktiwiteite in te sluit. Al die deelnemers het bevestig dat samewerking met ander deelnemers in die module hulle gehelp het om die inhoud beter te verstaan, idees te deel en om nuwe inhoud in hul projekte te integreer. ’n Toename in sosiale interaksie as deel van die leerproses is in die data-ontleding waargeneem: aanvanklik het deelnemers ‘redelik goed oor die weg gekom’ (D5), later het deelnemers ‘mekaar gemotiveer om te leer’ (D3) en aan die einde van die module het hulle ‘… as ’n groep kommunikeer te alle tye oor enige probleme wat enige een van ons ervaar’ (D5). Dieselfde tendens van toenemende en uitgebreide interaksie tussen deelnemers is waargeneem in die fokusgroepsessies, wat regdeur die studie gevoer is, en is in die navorsingsnotas genoteer.
Die resultate dui daarop dat projekgebaseerde leer as ’n onderrig-leerstrategie ’n oorwegend positiewe houding jeens leer by deelnemers ontketen het; dat hul hoogs gemotiveerd was om te leer; dat hulle die leer waardevol geag het; en dat deelnemers die positiewe leerervarings toegeskryf het aan die implementering van projekgebaseerde leer in hul onderwysersopleidingsprogram. Deelnemers het waarde geheg aan die bydrae wat die implementering van projekgebaseerde leer gelewer het tot hul vakkennis, hul leerproses, hul vermoë om leerinhoud oor te kan dra na lewenswerklike situasies en om dit as ’n onderrigstrategie te kan gebruik wanneer hulle tot die professie toetree. Hierdie bevinding sluit aan by literatuur (Gungor
Die aktiewe en beplande beheer van die leerproses is ’n kritiese element in selfgerigte leer (Bagheri
Projekgebaseerde leer speel dus ’n betekenisvolle rol in die inspirasie tot lewenslange, selfgerigte leer. Dit word bereik deur die ontwikkeling en bevordering van positiewe affek wat leer gevolglik bevorder.
’n Gestruktureerde, goed beplande onderrig-leerstrategie soos projekgebaseerde leer, hou voordele vir Verbruikerstudie-onderwysstudente in, onder meer die ontwikkeling van 21ste-eeuse vaardighede en die bevordering van affektiewe ervarings soos motivering, positiewe houdings jeens leer en die verhoogde waarde wat aan leer geheg word. Hierdie affektiewe faktore dra by tot en ondersteun die ontwikkeling van selfgerigte leer, wat gevolglik die tendens tot lewenslange leer aanmoedig. Indien lewenslange, selfgerigte leer ’n doelwit van onderwysersopleiding en projekgebaseerde leer is, behoort dit doelgerig in die beplanning van soortgelyke modules ingesluit te word. ’n Positiewe benadering tot leer is deur middel van projekgebaseerde leer by deelnemers gekoester, het hulle sterker gemotiveer om te leer en het hulle meer waarde aan die leertaak laat heg. Onderwysstudente wat die nut en waarde van ’n onderrig-leerstrategie in hul opleidingsmodule besef, raak gemotiveerd om dieselfde onderrig-leerstrategie in hul eie professionele werk te implementeer. Dit bied aan hulle eie leerders voordele voortspruitend uit projekgebaseerde en selfgerigte leer wat sal bydra om ’n voorliefde vir lewenslange leer te inspireer. Sterker gemotiveerde leerders leer beter en meer selfgerig, wat gevolglik lewenslange leer ondersteun.
Projekgebaseerde leer word aanbeveel as voorkeuronderrig-leerstrategie vir Verbruikerstudie-onderwysersopleiding op grond van die positiewe bydrae daarvan tot affektiewe faktore wat leer ondersteun. Die voordele wat projekgebaseerde leer as ’n onderrig-leerstrategie in Verbruikerstudie-onderwysersopleiding inhou, kan in meer diepte ondersoek word vir toepassing in modules wat vir hierdie doel ontwikkel word. Die invloed van ander affektiewe faktore (soos byvoorbeeld toetsangs, leervoorkeure, aandagspan of die keuse van leerstrategieë) op lewenslange, selfgerigte leer, kan in meer diepte in die konteks van projekgebaseerde leer ondersoek word.
Verdere navorsing behoort gedoen te word oor die ontwikkeling van strategieë vir lewenslange, selfgerigte leer wat doelbewus ingesluit behoort te word in die opleidingsmodules vir Verbruikerstudie-onderwysstudente om leer aan te moedig.
Die outeurs verklaar hiermee dat hul geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle voordelig of nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.
A.d.T. was die navorser en het die studie uitgevoer. M.H. en M.v.d.W. het ondersteuning en leiding verleen in die eksperimentele ontwerp en het konseptuele bydraes tot die studie gemaak.