Die prestasies van Suid-Afrikaanse leerders in internasionaal vergelykende studies bly voortdurend swak, wat vrae laat ontstaan oor die kwaliteit van onderwys wat aan Suid-Afrikaanse kinders gebied word in die verskillende grade en fases van formele skoolonderrig. Ernstige kommer oor leerders se swak prestasies oorheers navorsing en opvoedkundige debatte in Suid-Afrika. Ondanks goeie oogmerke, soos die hersiening van beleid en leerplanne, en die fokus op implementering, deur middel van kurrikulêre voorsiening en ondersteuning aan onderwysers, bly die verwesentliking in terme van leerders se prestasie teleurstellend swak. Hierdie studie ondersoek data verkry uit die preProgress in International Reading Literacy Study (prePIRLS) van 2011. Die prestasie van Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders is op ’n punt van 461 bereken, wat beduidend laer is as die internasionale gemiddeld van 500 (SE = 3.7). Resultate van die prePIRLS 2011-studie word gebruik as bewys van die bereiking van kurrikulêre doelwitte op die Graad 4-vlak, oor die spektrum van 11 Suid-Afrikaanse landstale. Norme of maatstawwe, soos afgelei uit die resultate, word verder ondersoek om moontlike verbeteringe aan te wys in die implementering van leerplanne in die klaskamer. Gevolgtrekkings sluit voorstelle in oor hoe onderwyspraktyk voordeel kan trek uit die bevindings van internasionaal vergelykende studies.
Die bemeestering van leesbegrip is ’n universeel aanvaarbare uitkoms van primêre onderwys, aangesien leesbegrip die basis vorm van meeste leerprosesse wat in die sekondêre skool plaasvind (Sporer, Brunstein & Kieschke
Die swak prestasie van Suid-Afrikaanse leerders in leesgeletterdheid is reeds in 2006 bewys deur die resultate van die Progress in Reading Literacy Study (PIRLS). PIRLS word in vyfjaarlikse siklusse uitgevoer en dien as ’n internasionaal vergelykende studie in leesgeletterdheid. Die opname vereis die assessering van leerders wat 4 jaar se skoling voltooi het (Mullis
Suid-Afrika het die eerste keer aan die PIRLS-opname deelgeneem tydens die 2006-siklus. Die Suid-Afrikaanse studie het ’n eerste populasie van Graad 4-leerders geassesseer, maar ook ’n tweede populasie van Graad 5-leerders as ’n nasionale opsie ingesluit (Howie
Vir die doel van die PIRLS 2011-opname het die Suid-Afrikaanse studie ’n Graad 5-populasie geassesseer ten einde tendense vanaf PIRLS 2006 tot PIRLS 2011 te bepaal. Maar ten einde Graad 4-leerders te assesseer, het Suid-Afrika besluit om aan die preProgress in International Reading Literacy Study (prePIRLS) 2011 deel te neem. Mullis
Resultate wat behaal is in die prePIRLS-opname van 2011 dui op volgehoue onderprestasie deur Suid-Afrikaanse leerders, met min aanduiding van verbeterde leesgeletterdheid, ondanks die eenvoudiger vlak van assessering. Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders het die laagste punte in leesvaardigheid behaal, naamlik 461, in verhouding tot die internasionale skaalpunt van 500 (SE = 3.7), asook vergeleke met 463 (SE = 3.5) behaal deur leerders van Botswana, en 576 (SE = 3.4) behaal deur leerders van Colombia (Mullis
Resultate van prePIRLS 2011 kan in konteks gesien word teen die raamwerk van ’n voorgenome, geïmplementeerde en verworwe kurrikulum. Hierdie driedelige leerplanmodel beskryf die aard van PIRLS 2011 en is ’n model wat deur ander internasionaal vergelykende studies soortgelyk aan PIRLS gevolg word, soos die Trends in Maths and Science Study (TIMSS). Volgens Shorrocks-Taylor en Jenkins (
Wat die gemeenskap verwag van die onderwyssisteem (die voorgenome kurrikulum).
Die onderrig wat wel plaasvind (die geïmplementeerde kurrikulum).
Wat inderdaad geleer word (die verworwe kurrikulum).
Reinikainen (
Konseptuele raamwerk vir internasionaal vergelykende studies.
Die beweegrede vir ’n land soos Suid-Afrika se deelname aan internasionaal vergelykende studies soos PIRLS moet nie gesien word as ’n oefening om die land se posisie te bepaal ten opsigte van ’n groot aantal ander lande nie. Die IEA se konseptuele raamwerk vir kurrikulêre fokus, en die verskille tussen voorgenome, geïmplementeerde en verworwe leerplanne, moet beskou word as die dryfveer agter deelname, daaropvolgende resultate en die interpretasie daarvan (Howie & Venter,
Na aanleiding van Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders se swak prestasie in die prePIRLS 2011-opname van leesgeletterdheid, word die volgende vrae gevra vir die doel van hierdie ondersoek:
Watter bewys lewer hierdie swak prestasie van leerders se vermoë, sodat daar verbetering kan wees in kurrikulêre implementering in die klaskamer?
Hoe kan onderwyspraktyk baat vind by die bevindings van internasionaal vergelykende studies?
Hierdie vrae fokus op die kurrikulum soos gekonseptualiseer deur die IEA se raamwerk vir internasionaal vergelykende studies. Die argument is dat, hoewel die beoogde of voorgenome kurrikulum (soos bewys deur kurrikulumdokumente wat deur die Suid-Afrikaanse onderwyssisteem gebruik word) wel in plek en goed ontwikkel is, die implementering daarvan en gevolglike bereiking van doelwitte steeds problematies is en verdere ondersoek regverdig.
’n Nasionaal verteenwoordigende steekproef van 15 744 Graad 4-leerders uit 342 skole het in 2011 aan die prePIRLS-studie in Suid-Afrika deelgeneem. Die steekproef het bestaan uit 7548 dogters en 8196 seuns. Leerders uit al 11 taalgroepe is geassesseer in die taal van leer en onderrig waaraan hulle tydens die Grondslagfase blootgestel is. Dit het beteken dat leerders nie noodwendig getoets is in hul huistaal nie, maar eerder in die taal waaraan hulle op skool blootgestel is. Die stratifikasie op grond van taal was soos volg: 1463 Afrikaanse leerders, 2205 Engelse leerders, 1393 isiNdebele-leerders, 1090 isiXhosa- leerders, 1209 isiZulu-leerders, 1099 Sepedi-leerders, 1431 Sesotho-leerders, 1293 Setswana-leerders, 2186 SiSwati- leerders, 1187 Tshivenda-leerders en 1188 Xitsonga-leerders.
Die prePIRLS 2011-assessering het bestaan uit ’n leesgetterdheidstoets in die vorm van twee tipes tekste, naamlik lees vir die literêre ervaring (literêre tekste) en lees om inligting te verkry en te gebruik (inligtingstekste). Leestekste is gevolg deur ’n reeks veelvuldigekeuse- en oopresponsvrae waarvoor ‘n maksimum van twee punte toegeken kon word. Die resultate van leesprestasie in die prePIRLS 2011- opname is gerapporteer in terme van prestasie bo of onder die vasgestelde internasionale skaalpunt van 500, deur gebruik te maak van vyf algeheel aanvaarbare waardes, soos afgelei uit itemrespons-analises.
Die International Association for the Evaluation of Educational Achievement (IEA) het die Internasionale Databasis-Ontleder-sagteware (IDB Analyser) beskikbaar gestel vir die ontleding van die PIRLS en prePIRLS-datastelle (IEA 2012). Hierdie sagteware is gebruik vir die ontleding van data in die huidige ondersoek. Die prePIRLS 2011-puntetellings voorsien inligting oor leerders se prestasie in die lees van ’n verskeidenheid literêre en inligtingstekste (Mullis
Bykomend tot die prePIRLS 2011 se algemene resultate, is die prePIRLS 2011-resultate ook onderverdeel ten opsigte van norms op ’n vierpuntskaal. Die vierpuntskaal maak voorsiening vir die beskrywing van resultate in terme van die Lae Internasionale Norm, die Intermediêre Internasionale Norm, die Hoë Internasionale Norm en die Gevorderde Internasionale Norm. Leerders wat presteer het op die Lae Internasionale Norm het 400 punte behaal, terwyl leerders wat op die Intermediêre Internasionale Norm presteer het, 475 punte kon behaal. Die Hoë Internasionale Norm word gebruik om leerders se prestasies te beskryf wat 550 punte kon behaal, en die Gevorderde Internasionale Norm beskryf leerders wat 625 punte kon behaal. Volgens Mullis
’n Ontleding van die Suid-Afrikaanse prePIRLS 2011-resultate toon ’n ernstige onderprestasie van Graad 4-leerders ten opsigte van die internasionale norm.
PrePIRLS 2011 se standaardresultate vir Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders.
PrePIRLS 2011 se norm-standaardresultate vanuit die totaal leerders wat die Lae Internasionale Norm kon behaal.
Dit is kommerwekkend dat 29% Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders nie die Lae Internasionale Norm in die prePIRLS 2011-opname bereik het nie, wat beteken dat hulle nie eens bewys kan toon dat hulle oor basiese leesvaardighede beskik nie.
Die waarde van norms vir kurrikulêre implementering op klaskamervlak, is dat dit ongetwyfeld dui op probleme om leerders letterlike begrip te laat bemeester in die Grondslagfase van die onderwyssisteem, ongeag die taal van instruksie. Die internasionale standaardmediane wys dat dit moontlik is vir Graad 4-leerders om hoërorde-begrip in hierdie ontwikkelingsfase te verwerf. Onderwysers in die Suid-Afrikaanse sisteem, wat nie bewus is van die ontwikkelingsvaardighede van leerders nie, gee nie erkenning hieraan nie (Zimmerman
Afhangende van die onderrigmedium van elke skool, word leesvaardighede in Suid-Afrikaanse skole gedurende die Grondslagfase ontwikkel deur gebruik te maak van basiese leesboekies in ’n moedertaal (Pretorius
In die Intermediêre Fase word aangeneem dat leerders se leesvaardigheid, as deel van taal- en inligtingprosessering, reeds ontwikkel is, aangesien hulle teks kan dekodeer. Tekste verander ook van oorwegend narratiewe formate in ’n eerste taal na Engelse verduidelikende tekste, oor onderwerpe en aangeleenthede waarmee leerders nie noodwendig bekend is nie (Departement van Onderwys
Die houdings en opvattings van onderwysers betreffende hul eie klaskamers, hul klaskamerpraktyk en leerderprestasies, is dikwels die gevolg daarvan dat hulle hulself net binne hul eie skool en met naburige onderwysers vergelyk. Onsekerheid oor aktiwiteite en die vlak waarop dit moet plaasvind, word dikwels slegs bemiddel deur kurrikulêre verwagtings en die pas waarteen werk in die bepaalde skool geskied, soos voorgeskryf deur kollegas en die skoolbestuur. Die waarde van die resultate van PIRLS 2006, PIRLS 2011 en prePIRLS 2011 kan bes moontlik daarin lê om leesmateriaal en vraagitems komende uit die studie aan onderwysers beskikbaar te stel. Sodoende kan hulle bewus word van die begripsprosesse wat deur die studie gehanteer word en kan dit dien as riglyn om leesmateriaal vir die klaskamer te ontwikkel, in ooreenstemming met ’n bestaande internasionale raamwerk. Die voorsiening van vrygestelde uittreksels aan onderwysers om te dien as voorbeeld van die verwagte vlak vir Graad 4, soos gemeet aan internasionale norme, kan aanleiding gee tot ’n meer ingeligte begrip van waartoe leerders in hierdie stadium van ontwikkeling in staat is.
Die PIRLS-opnames het ’n onweerlegbare impak op makrovlak-beleid. Onder meer het die PIRLS 2006- resultate ’n invloed uitgeoefen op die onderwyssisteem in terme van die ‘Drop All and Read’-veldtog. Hierdie projek is in 2008 geloods om Graad R- en Graad 1- leerders tot die onderwys te verwelkom met sakke waarin daar ’n versameling boeke was wat die kinders self kon lees, of waaruit ouers of versorgers vir hulle kon voorlees (Howie & Venter
Terugvoer van internasionale toets- en assesseringsprogramme aan onderwysers is nog in sy kinderskoene en word in Suid-Afrika nie ten volle benut nie. Hoewel daar geredeneer kan word dat onderwysers bewus is van assesseringsresultate sodra dit openbaar gemaak word, is die terugvoer rakende verbeterde implementering wat hieruit voortvloei, nog min. In hierdie verband is terugvoer oor die bereiking van doelwitte en implementering noodsaaklik om te verhoed dat leemtes al groter word soos wat die kurrikulum manifesteer in terme van voorneme, implementering en doelwitte of verwerwing.
Die waarde van resultate, uit internasionaal vergelykende studies verkry, kan verhoog word indien onderwysers die inligting wat deur hierdie studies gegenereer word in hul kurrikulêre implementering op klaskamervlak gebruik. Derhalwe kan die beskikbaarstelling van vrygestelde items en verduidelikende memorandums onderwysers help om begripsprosesse waaraan leerders blootgestel behoort te word te verstaan. Die blootstelling aan vlakke van leesbegripontwikkeling in die vorm van internasionale normbeskrywings, sowel as beskikbaar gestelde toetsitem-leesstukke en voorbeelde van leerderresponse geassosieer met hierdie items, kan moontlik op sigself waardevolle insig ten opsigte van begripsprosesse en ontwikkelingsvereistes aan onderwysers verskaf.
Die doel van hierdie studie was om Suid-Afrikaanse leerders se leesprestasie te illustreer teenoor ‘n konseptuele model van die kurrikulum, soos dit manifesteer in aspekte van ’n beoogde kurrikulum (soos bewys deur beleid- en kurrikulumdokumente), ’n geïmplementeerde kurrikulum (soos bewys deur klaskamerpraktyk), en ’n verworwe of bereikte kurrikulum (soos blyk uit leerders se prestasies). Oor die algemeen dui die uitslae van prePIRLS 2011 op swak verwerwing van leesgeletterdheid van Graad 4-leerders. Aangesien Suid-Afrika se volgehoue swak prestasie in internasionale assesseringsprogramme kommerwekkend is, moet die fokus en waarde van hierdie bevindings nie slegs beskou word in terme van doelbereiking nie. Terugvoer aan onderwysers is van kardinale belang, aangesien verandering in onderrigpraktyk slegs geïmplementeer kan word wanneer empiriese bewyse gegee kan word van wat effektiewe onderrigpraktyk is.
In hierdie studie is gepoog om volledige inligting te gee van wat die norm is rakende verwerwing van spesifieke vaardighede wat Graad 4-leerders tydens leesbegrip-oefeninge toon. Internasionale norme verklaar die spesifieke vaardighede gekoppel aan die vier vlakke en illustreer wat moontlik behoort te wees vir Graad 4-leerders in die verwerwing van hoërorde-begripsvermoëns op hierdie ontwikkelingsvlak. Daarbenewens het die normprofiele aan die Suid-Afrikaanse sisteem en aan onderwysers getoon dat leerders nie besig is om die leesbegrip of die ontwikkeling van hoërorde-leesbegrip te bemeester wat vereis word vir verdere akademiese prestasie in die skoolsisteem nie.
Die kritieke punt rakende swak leerderprestasie is nie die swak prestasie op sigself nie, maar wat daaraan gedoen moet word om verbetering teweeg te bring in ’n stelsel waarin baie onderwysers nie oor die vermoë beskik om die verbetering van lees die fokuspunt van hul klaskamerpraktyk te maak nie. Terwyl internasionale assesseringsresultate, soos prePIRLS 2011, ’n duidelike waarskuwing is betreffende Suid-Afrikaanse leerders se swak prestasie, blyk dit dat assessering gefaal het as ’n integrale deel van die leerproses, veral omdat assesseringsresultate ’n bydrae kon lewer om inligting en ondersteuning aan onderwysers en leerders in nood te gee. Assessering behoort aan te toon watter sistemiese faktore verander of aangepas moet word, of behoort as hefboom te dien om verbetering in kurrikulêre implementering te verseker. Indien dit faal, kan assessering as agent van verbeterde implementering van leerplanne waardeloos word om terugvoer te gee oor die betekenisvolle faktore wat ’n invloed het tuis, in klaskamers en in skole landswyd.
Die outeur verklaar dat sy geen finansiële of persoonlike verhouding(s) het wat haar op ’n positiewe of negatiewe wyse by die skryf van die artikel kon beïnvloed het nie.
Normskale is kumulatief. Die persentasie leerders wat nie die Lae Internasionale Norm behaal het nie en die leerders wat wel die lae norm behaal het, is gesamentlik 100%. Van die 71% Suid-Afrikaanse Graad 4-leerders wat die Lae Internasionale Norm behaal het, het 30% van leerders slegs die Lae Internasionale Norm bereik, gevolg deur die Intermediêre Internasionale Norm soos bereik deur 23% van leerders, die Hoë Internasionale Norm soos bereik deur 12% van leerders en die Gevorderde Internasionale Norm soos bereik deur 6% van leerders.