Portuuroorsigproses

Ons strategie

Die Redaksie verwelkom goeie gehalte manuskripte oor die wye gebied van die natuurwetenskappe en die tegnologie in Afrikaans. Manuskripte sal na aanvaarding onmiddellik aanlyn verskyn en aan die einde van elke jaar as ‘n harde kopie gepubliseer word.  As 'n artikel in Engels ingedien word, is die publikasiefooi R2,500.00. Die outeur betaal dan ook die helfte van die vertaalfooi en ons die ander helfte. Die Engelse manuskripte sal ook na internasionale keurders gestuur word vir evaluering en, indien aanvaar, in Afrikaans vertaal word. Alle manuskripte van die SATNT wat reeds verskyn het, is onder die Argiefskakel beskikbaar. Aan die einde van elke jaar word slegs die Afrikaanse manuskripte in gedrukte vorm gepubliseer en aan alle lede van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gestuur. Die Afrikaanse publikasie, en indien daar ‘n Engelse weergawe aanlyn beskikbaar is, sal presies dieselfde verwysing onder die Afrikaanse of Engelse (South African Journal of Science and Technology) titel hê.

Dit is ook vir Afrikaanssprekende wetenskaplikes belangrik dat hulle resultate internasionaal toeganklik moet wees ter wille van die uitbouing van die wetenskap en die sitering van hulle publikasies.  Die oplossing wat die SATNT met uitstekende finansiële ondersteuning van ons borge aanbied, is dus om manuskripte as gedrukte kopieë een keer per jaar in Afrikaans te publiseer. Die aanlyn-uitgawe kan dus ook, indien die manuskrip oorspronklik in Engels aangebied is, benewens die Afrikaanse vertaling die volledige manuskrip in Engels bevat.

Oop toegangbeleid

Die SATNT lewer onmiddellike oop toegang tot sy inhoud. Hierdeur ondersteun die Tydskrif die beginsel dat vrye toegang tot navorsing die wêreldwye uitruiling van kennis bevorder.

Ons akkreditering en beperking

Alle navorsingspublikasies in die SATNT kwalifiseer vir ‘n subsidie van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) aan die universiteit of navorsingsinstansie.  Die DHOO plaas ‘n beperking dat nie meer as 25% van die totale aantal publikasies binne die bestek van ‘n jaar van een enkele universiteit of instansie mag kom nie.  Publikasies van meer as een instansie word onmiddellik na aanvaarding aanlyn gepubliseer, terwyl publikasies van ‘n enkele universiteit aanlyn teruggehou word indien daar reeds meer as 25% publikasies van daardie instansie ontvang is. Outeurs word dus aangemoedig om met kollegas by ander Universiteite of navorsingsinstansies saam te werk.

Ons ondersteuning

Deur die uitstekende borgskappe wat ons ontvang, onder meer van die Hiemstra Trust en die Het Jan Marais Fonds word geen publikasiekoste gehef vir Afrikaanse bydraes nie, maar wel R2,500 vir bydraes in Engels. Die gepubliseerde manuskripte kan onmiddellik elders op navorsingsplatforms, soos bv. ResearchGate, geplaas word om die sigbaarheid van die manuskripte te verhoog.

Die redigeerproses is so opgestel dat manuskripte met min moeite aanlyn geplaas, geëvalueer en geredigeer kan word. Alhoewel die SATNT onder die vaandel van die SAAWK gepubliseer en gefinansier word, word die manuskripbestuur deur ‘n onafhanklike kontrakteur behartig.

Verspreiding en indeksering

Die volledige teks van elke artikel word onmiddellik en permanent na publikasie in die SATNT-argiewe van die onderstaande groot bibliografiese databasisse gestoor.
Verder bly alle manuskripte wat sedert 1982 gepubliseer is, steeds elektronies beskikbaar op www.satnt.ac.za.

DHET SA List, Thomson Reuters Web of Science Other Coverage, BIOSIS Previews, Directory of Open Access Journals (DOAJ), EBSCO Host, GALE, CENGAGE Learning, Google Scholar, ProQuest, Norwegian Register for Scientific Journals, Series and Publishers, Level 1, Portico, Medpharm Library, SA ePublications, Sabinet, South African Government Libraries.

Borge

Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

Geskiedenis van die SATNT (Hierdie paragraaf herhaal die mandaat en lyk uit plek; miskien moet dit voor ons “Mandaat” kom of onder ‘n aparte spyskaartitem of oortjie (tab), soos die Afrikaanse ekwivalent van ‘About us’.)

Baie welkom by die Webbladsy van die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT). Die SATNT word uitgegee deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Die hoofdoelstellings van die SAAWK is die bevordering van die wetenskap, die tegnologie en die kunste asook die bevordering van die gebruik en gehalte van Afrikaans.

Ons geskiedenis

Die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns het van 1922 onder redaksie van dr. D.F. Malherbe verskyn. In 1948 het die Ingenieursafdeling van die SAAWK die Tydskrif van die Ingenieursafdeling van die SAAWK onder redaksie van mnr. S.A. Malan uitgegee. In 1949 word die Tydskrif se mandaat uitgebrei en vervang met Tegnikon onder redaksie van mnr. F.S. Uys.

In 1961 het die Tydskrif vir Wetenskap en Kuns in twee verdeel in die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, onder redaksie van prof. P.J. Nienaber en Tydskrif vir Natuurwetenskappe onder redaksie van dr. A. Strasheim.

In 1982 smelt Tegnikon en die Tydskrif vir Natuurwetenskappe saam om die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie (SATNT) te vorm – steeds onder redaksie van dr. Strasheim. Na 2000 was prof J.N. Eloff die Voorsitter van die Redaksiekomitee. Die eerste elektroniese aanlyn-uitgawe het in 2012 verskyn. Tussen 2013 en 2016 was prof. J.G. Maree die Uitvoerende Redakteur en na 2016 was prof J.N. Eloff weer die Uitvoerende Redakteur van die SATNT. Prof. Oppel B.W. Greeff was die Hoofredakteur van Januarie 2021 to February 2023. Sedert Februarie 2023 is prof. Hannes Rautenbach die Hoofredakteur.